Die knorrigheid en tjankstories van 'n middeljarige, Afrikaanssprekende, blanke man wat maar net nie in Suid-Afrika van 2009 kan aanpas nie.

Mqwathi se afskop alreeds verdag

Printer-friendly version

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly alles presies dieselfde. En een ding wat nie nou al gaan verander nie, is dat Kroonstad (Moqhaka) nie 'n bekwame munisipale bestuurder sal kry nie.

Mnr Mcedisi Mqwathi is Kroonstad se nuwe munisipale bestuurder. En reeds word die "kaka" in Moqhaka, daardie produk wat in soveel van die dorp se strate afstroom en 'n onmisbare "klankie" aan die aandgeure in Kroonstad verleen, heen en weer in die raadskamer van Moqhaka geslinger.

Hier is 'n paar van die onwelriekende aangeleenthede rondom die aanstelling van Mqwathi:

  • Gerugte doen die rondte dat Mqwathi lankal reeds vir die pos geoormermerk is.
  • Volgens mnr Danie Brink van die VF+ het die aanstelling van Mqwathi "ondeursigtig geskied."
  • *Volksblad" is voordat die aanstellingspaneel onderhoude met die kanidate op die kortlys gevoer het, reeds meegedeel dat Mqwathi as munisipale bestuurder aangestel is.
  • Benewens sy CV en onderhoud met die aanstellingspaneel is geen bekwaamdheidstoetsing op Mqwathi gedoen nie.
  • Mev Mariette Pittaway, DA raadslid in Moqhaka, het versoek om voor die sitting van die keuringspaneel die CV's van die kandidate vir die pos van munisipale bestuurders te beskou. Die CV's is 15 minute voor die aanvang van die vergadering aan haar beskikbaar gemaak en die tyd om die CV's na te gaan waas glad nie voldoende nie. Na 'n beswaar van Pittaway het ander raadslede aan haar gesê dat sy maar hof toe, of koerante toe, kan hardloop.
  • Mqwathi is weg by die Emfuleni-munisipaliteit onder 'n wolk van beweringe met betrekking tot seksuele teistering.
  • Volgens die CV van Mqwathi besit hy 'n meestersgraad in 'n bestuursverwante rigting. Daar is egter geen melding van Mqwathi se gewone graad asook honeursgraad wat voorvereistes is vir iemand met 'n meestersgraad. Die vraag ontstaan dus of Mqwathi hoegenaamd sulke grade het en indien hy dit nie het nie is die geldigheid van sy meestersgraad verseker in die gedrang.
  • Die ANC lede hou voet by stuk dat daar geen ongeruimdhede met Mqwathi se grade bestaan nie. Onder die beginsel dat geen gerug ooit waar is tensy dit amptelik ontken word nie, is Mqwathi se grade, of gebrek daaraan, baie verdag.
  • Ontdanks ernstige teenkanting is die aanstelling van Mqwathi deurgevoer deur die ANC meerderheid in die Moqhaka raad.

Nie 'n goeie afskop nie, Mnr Mqwathi. U voorganger Mnr Duma het nie besonder baie sukses in sy pos gehad nie en het dikwels vasgesit met die gemeenskap van Kroonstad. Mnr Duma se voorganger het selfs die vergrootglas van die Skerpioene op sy bedrywe gehad en gelei tot 'n besoek van die vorige staatspresident aan Kroonstad om dinge "reg te ruk". Krooninfo het 'n lang "geskiedenis" met die munisipale bestuurders van Kroonstad en dit is met hernude energie wat ek vir Moqhaka aanpak oor die elllendige toestand van ons dorp. So bo-op die bestaande gemors en droogmakery wat u saam met die pos van munisipale bestuurder erf, kan u ook nou u eie stempel afdruk. 'n Stempel wat of verbetering beteken, of een van onbevoegdheid en korrupsie - watter een is u keuse. En die wolk van aantygings van seksuele teistering wat van Umfuleni af oorwaai sal beteken dat daar 'n heel ander kleur aan die politiek in ons dorp geheg word.

Kroonstad is tot die nek toe diep in die kaka van Moqhaka, met die opgehoopte skuld, krimpende belastingsbasis, wanbetaling, agterstallige kragrekening, ondoeltreffendheid, vermorsing, en hope oorbetaalde kaders van die regerende party wat bitter min produksie lewer en het 'n kwynende ekonomie gekoppel aan 'n verkrummelende infrastruktuur. Om die probleme op te los of selfs net aan te spreek, het Kroonstad 'n ekonomiese tier met uitsonderlike bekwaamhede nodig gehad. In plaas daarvan is 'n lojale kameraad en kader van die regerende party na Kroonstad toe herontplooi nadat hy inderhaas onder 'n wolk in sy vorige pos by Emfuleni weg is. Daarby is sy kwalifikasies uiters verdag en die proses van sy aanstelling is so ondeursigtig dat dit skandalig is. Mqwathi se kanse op mislukking is aansienlik en die moontlikheid dat hy ons dorp sal regruk is gering. Gewoonlik sou mens sê dat die man in daardie pos 'n billike kans gegun moet word. Maar ons krisis is nou van so 'n omvang dat daardie vergunning hoegenaamd nie bestaan nie. Mqwathi stap in 'n pos in waar hy van dag een af sal moet produseer sodat hy spoedige resultate kan lewer ten goede van die dorp. Daar gaan geen genade vir hom wees in die pos van munisipale bestuurder nie.

Ontstoke skares neem toenemend deel aan geweldadige betogings in plattelandse dorpe vanweë 'n gebrek aan dienslewering. Dit gebeur reeds in dorpe rondom Kroonstad en ons beurt kom verseker nader waar die ontstokes skares opruk om geboue af te brand. Daarby kan Kroonstad nie huidiglik agterstallige skuld aan instansies soos Eskom vereffen nie. Dan is die munisipale belastings en inwonersvereniging ook met protesaksies besig vanwee die gebrek aan dienslewering. Die ekonomie van Kroonstad is huidiglik benard en dit gaan 'n groot duik maak in die inkomste van Kroonstad. Mqwathi is 'n man wat nuut instap en onmiddelik gaan sit in 'n vuurwarm stoel waar hy bitter min vriende gaan hê en genade van niemand af sal ontvang nie en boonop omrig is van ANC faksies wat hom netsowel in die rug sal steek.