Die knorrigheid en tjankstories van 'n middeljarige, Afrikaanssprekende, blanke man wat maar net nie in Suid-Afrika van 2009 kan aanpas nie.

Kroonstad besoedel nie meer rivier nie.

Printer-friendly version

"'n Stukkende waterpyp is volgens me Buyelwa Sonjica, minister van waterwese en omgewingsake, herstel en die rivier (Valsrivier) word nie meer besoedel nie."

Waarop ek net kan sĂȘ, "Bog!"

Enigeen is welkom om vandag na die spruit te gaan kyk wat tussen die dorp en die N1 snelweg van Noord na Suid loop en stroomop van die waterwerke in die Valsrivier invloei. Ek kan bevestig dat daardie spruit ten hemele stink en lyk soos 'n rou sloot van riool. Gaan kyk na Vermaakstraat in Suidrand waar rou riool uit verskeie mangate (Moqhaka vulkane) borrel en straataf stroom oor die terrein van Gunhill op pad na die Valsrivier toe. Ek vermoed daar is meer rioolstortingspunte in Kroonstad as die twee waar ek toevallig verbygery het.

Volgens mnr Abrie Oosthuizen, leier van die VF+ in die Vrystaat, is Kroonstad (Moqhaka-munisipapliteit) en Villiers (Mafube-munisipaliteit) telkemale aangespreek omdat hulle verantwoordelik is vir die storting van riool in die riviere en dat daar niks aan gedoen word nie.

Volgens Sonjica sal daar binnekort begin word om fabrieke te sluit wat waterbronne besoedel en om stadsklerke tronk toe te stuur omdat hul rioolsuiweringsaanlegte nie werk nie.

Kom ons kyk of iets sal gebeur, want vandag nog loop die riviere van str*nt steeds in Kroonstad se strate.

Bron: "Hou Kroonstad-Munisipaliteit dop, vra VF+", Volksblad 5/11/2009